INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

Politici en hul waghonde

Die verhouding tussen die media en politici sê baie van die welsyn van die politieke stelsel in ‘n land. Dit is daarom dat die spanning in dié verhouding dikwels baie aandag geniet. In Suid-Afrika het hierdie verhouding oor die afgelope paar dekades ook aansienlik wipplank gery. Jóhann Thormählen het gaan kyk hoe dié verhouding verander het en of die media steeds regeringskoothond speel
en of dit deesdae eerder ’n goeie waghond is.

As die uitvoerende hoofbeampte én die nuushoof van die SABC binne dieselfde week afgedank word, wonder ’n mens of die media werklik so polities onafhanklik is as wat veronderstel word. Veral as ’n deel van die krisis tot dié bestuurslede se politieke verbintenis aan die regerende party toegeskryf kan word.

Franz Krüger, joernalis en dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê in sy boek Black, White and Grey: thics in South African Journalism oor media-etiek dat enige regering foute maak, en dat joernaliste dit nog altyd as ’n belangrike funksie beskou om ten alle tye ’n arendsoog oop te hou vir wanneer hulle fouteer.

Volgens Johan Retief, joernalis en media-konsultant, was die Suid-Afrikaan-se media, veral die Afrikaanse pers, nie altyd op die uitkyk vir die regering se foute gedurende apartheid nie. Hy skryf in sy boek Media Ethics: An Introduction to Responsible Journalism dat die media se bande met die regerende Nasionale Party hopeloos te nou was, en hulle dus nie hul rol as staatswaghond kon vervul nie.

Retief sê die Afrikaanse media was tot en met die vroeë 1990’s so onkrities teenoor die regering dat dit nie behoorlik as die sogenaamde “fourth estate” kon funksioneer nie. Hy sê Die Burger is as die “amptelike mondstuk” van die rege-ring beskou en meen die koerant kon dus glad nie onafhanklik en objektief optree nie.

“Wanneer president P.W. Botha byvoorbeeld nie van ’n sekere deel van die nuus op SAUK-televisie gehou het nie, het hy bloot die telefoon opgetel en ’n korreksie of weglating daarvan in die volgende bulletins geëis,” skryf hy in sy boek.

Jan-Jan Joubert, joernalis en politieke redakteur van Die Burger, sê ’n mens moenie veralgemeen wanneer jy na die destydse Afrikaanse media verwys nie. Hy stem nie heeltemal met Retief saam nie en verduidelik in ’n telefoononderhoud dat daar wel kritiese media soos die Vrye Weekblad gedurende apartheid bestaan het.

Joubert meen dit lyk op die oog af of die oorgrote meerderheid van die media onkrities was, omdat feitlik net Afrikaanse media deur die destydse apartheidsrege-ring as waardig aanvaar is. Hy verwys daarom na die Afrikaanse media as “die media van die tyd”, aangesien dit meer amptelike erkenning van die owerheid geniet het. “Dit is daarom maklik om te veralgemeen, maar daar moet eers na al die feite gekyk word” sê hy. Joubert noem dat selfs Die Burger by tye soos die Sharpeville-opstand krities teenoor die regering was.

Volgens hom het die apartheidsrege-ring nie noodwendig die media opsetlik as propagandameganisme gebruik nie. Hoewel hy erken dat hulle die nasionale uitsaaier doelbewus gebruik het, het die meerderheid van die apartheidsjoerna-listiek bloot met politici “saamgestem”. Hy sê die regering het nie noodwendig opsetlik die media gebruik nie, maar eerder toevallig die regering “nagepraat”.

Die SABC moet volgens Joubert vandag nog van ander media onderskei word. “Omdat hulle die openbare uitsaaier is, is hulle steeds tot ’n mate napraters van die politieke mag. Die SABC is geensins objektief nie. Hul dekking van verkiesings is byvoorbeeld skandelik.”

Dr Karen Smith, politieke wetenskap-dosent aan die Universiteit van Stellen-bosch, sê in ’n e-pos onderhoud dat die media beslis vandag nog deur politici gebruik word om hul persoonlike agendas te propageer. Sy skryf die ongesonde verhouding toe aan die media se afhanklikheid van regeringsbronne, aangesien baie van die media se inkomste deur advertensies van die staat en politieke instellings gegenereer word.

“Die verhouding is baie keer een van I’ll scratch your back... Ons sien ook dat politieke partye baie keer die media gebruik om politieke gevegte in die openbaar te voer soos byvoorbeeld die spioenasie-sage in Kaapstad,” sê sy.

Joubert is egter meer optimisties oor die huidige stand van sake. “Natuurlik praat Helen Zille nie met ons omdat sy van óns hou nie, maar eerder omdat sy wil hê kiesers moet van háár hou. Die media is ’n spreekbuis en dus gebruik politici wel die media op ’n manier, maar solank politici nie die verslaggewing beïnvloed nie, is dit nie die einde van die wêreld nie.” Volgens hom kan dit nie as die propagering van politici se persoonlike agendas gekwalifiseer word nie, maar is dit eerder bloot die “uitdra van stellings van mense”. In ’n demokratiese land word die onafhanklikheid van die media dikwels as ’n vereiste vir ’n suksesvolle samelewing beskou. Hierdie onafhanklikheid kan prakties gemeet word aan die objektiwiteit waarmee joernaliste verslag doen.

“Balans” is volgens Joubert ’n beter beskrywing van die media se taak. Hy sê dit is bitter moeilik om werklik objektief te wees, terwyl gebalanseerde verslagge-wing op ’n balans tussen verskillende bronne dui.

Smith beklemtoon die verantwoordelikheid wat elke dag op joernaliste se skouers rus. Sy meen vandag se media het ’n plig teenoor die publiek “om objektief verslag te doen oor sake, insluitend politieke kwessies, wat vir die publiek van belang is”.

“Ek dink nie die Suid-Afrikaanse media is altyd heeltemal onpartydig nie,” sê Smith. Sy erken dat sy nie te optimisties is oor die manier waarop die media vandag verslag doen nie en verwys na die dekking van die Jacob Zuma-hofsake as voorbeeld. “Die feit dat die media duidelik eensydig en nie objektief was nie, het op baie mense die teenoorgestelde effek gehad. Dit het die idee geskep dat die media kop in een mus met politieke figure is wat volgens hulle Zuma probeer frame het.” Smith sê dit veroorsaak dat die media nie meer as ’n “objektiewe, verantwoordelike rolspeler” beskou word nie.

Joubert stem saam dat verslaggewing oor Zuma nie altyd na wense is nie en meen dat veral die Engelse media hieraan skuldig is. Hy sê hulle het Zuma skuldig bevind voordat die hof ’n uitspraak gelewer het. “Die Engelse media het die kant van die verkragtingslagoffer gekies en dit is baie gevaarlik.”

Die media speel volgens die huidige regering ook ’n belangrike rol in die heropbou en ontwikkeling van die samelewing in Suid-Afrika. Krüger noem dat Essop Pahad, destydse adjunkminister in die presidensie, in 2001 die media gekritiseer het omdat hulle na sy mening te negatief is en dus nie tot die vooruitgang van die samelewing bydra nie. Smith beaam dat die media dalk “vandag te krities teenoor die staat” is en sê dit kan die proses van nasiebou negatief beïnvloed.

Sy meen daar kan van albei kante aan die huidige verhouding tussen die media en politici gewerk word. Volgens haar is dit belangrik om ’n balans tussen die media se rol as staatswaghond en vyand van die regering, soos baie politici dit beskou, te kry. “Mens wil nie hê dat die media die staat se mondstuk moet wees nie, maar terselfdertyd is die huidige, ongemaklike verhouding ook nie ideaal nie.”

’n Mens kan redeneer dat die media-landskap in Suid-Afrika meestal ten goede verander met die koms van demokratisering. Smith meen die grootste verandering in die verhouding tussen die media en politici is beslis “meer persvryheid”. Joubert sê die verhouding is vandag meer gesond as in die verlede en meen dat ’n mens daarmee tevrede kan wees. “Die wet is baie sterk en die media is totaal vry van enige beperking. Die verhouding tussen die media en die politiek is wat óns wil hê dit moet wees.”